top of page
4x4 car underside adventure route

Season 8 - Aired 2015

Episode 1

Safari 4x4 Roetes slaan hierdie jaar met hul 8ste Reeks ‚n heel nuwe blaadjie om. Vir die afgelope 7 reekse het Andre de Villiers, 4x4 spesialis die kykers gewys hoe om 4x4 te ry in moeilike terreine en het hy baie wenke gegee. Dit alles was ter voorbereiding vir die groot toets om in Afrika te gaan 4x4 roetes ry en dus op Safari te gaan! Dis nooit wys om alleen in Afrika en die onbekende te gaan ry nie en daarom besluit Andre om hierdie jaar ‚n spesiale gas saam met hom te neem. Die spesiale gas is die bekende Petri de Wet van Hier Gaan Ons Alweer kykNET visvang program. Andre gaan Petri na die viswaters neem, maar die moeilike 4x4 Roetes aandurf en hom die fynere kunsies leer van 4x4 en hopelik gaan Petri vir andre die fynere kunsies van visvang leer.

Alvorens Petri saam op Safari kan gaan, moet Andre eers gaan kyk of hy sy nuwe voertuig, die Amarok kan bestuur oor erge hindernisse en weet waar trap die wiele. Ons gaan saam na Moegatle 4x4 roete net buite Brits waar Petri behoorlik getoets word en sy senuwees gereeld op hol gejaag word met die moeilike en intemederende hindernisse. Andre vat ook vir Petri na die bekende rots van by die 43grade. Petri kan nie glo dat Andre hom vra om daar uit te ry nie, maar hy slaag met vlieende vaandels! Daarna gaan kamp Andre met Petri in die bos om al die toerusting te toets alvorens hulle in Afrika invaar!

 

Episode 2

Na ons nag se kamp in die bos neem ek Petri na die omliggende grondpaaie te Moegatle vir grondpad hantering en 'n remtoets om die verskillende funksies van die 4x4 voertuig te wys. Ons ry nog vir oulaas 'n hindernis en vat dan koers na die dorp waar ons die voertuie gaan volmaak en pak vir die lang Safari.

Maar alvorens die kan plaasvind neem ek vir Petri na Sandwani wild reservaat se 4x4 Akademiese baan. Hier kan jy die voertuie onder beheerde toestande deur die verskillende hindernisse neem, want die baan is van beton gemaak. Dus toest jy hier eintlik jou eie vermoeë, maar maak ook seker die voertuig se funksies werk reg en baie belangrik, is die voertuig reg gepak vir die hindernisse. Jy ervaar ook hoe 'n volgelaaide voertuig die hindernisse ry.

Ek vat Petri eers deur die akademiese baan se oorkruisgate en hobbels, daarna die rotshindernis en dan die gevreesde syhelling. Petri ry al die hindernisse en ervaar hoe sy voertuig reageer, maar hy vorder net tot by die 40 grade van die syhelling. Hierna wys ek hom wat is die vermoee van die Amarok wat tot 49 grade kan gaan en ry die 44 grade syhelling. Daarna ry ek die 30 grade met die sleepwa en Petri die 40 grade. Vir oulaaas toets en ons kommunikasie en neem Petri oor 'n paalbrug met die radio wat hy ook goed slaag.

Ons durf die langpad aan vir die eerste Safari en ry net meer as ‚n 1000km en kamp lang die Oranjerivier aan die beginpunt van die Namakwa 4x4 roete. Na 'n mooi sonsondergang en heerlike aandete gaan slaap ons voor die langdag van môre.

 

Episode 3

Ons ry die eerste Safari en ek vat Petri op die Namakwa 4x4 Roete wat in die NoordKaap geleë is. Vir die roete draai jy af anderkant Pofadder na die klein dorpie Pella. Vandaar ry jy op grondpaaie en tweespoor paaidjies al langs die Oranjerivier. Ons kamp die eerste aand op die oewer van die Oranje aan die beginpunt van die Namakwa 4x4 Roete.

Na ‘n heerlike aandete en welverdiende nagrus na die lang pad langs die Oranjerivier het ons opgestaan en Petri het vir ons ontbyt gemaak alvorens ons die kamp moes opslaan en die pad vat op die roete.

Maar alvorens ons die tweespoor paaidjie aandurf laat ek eers vir Petri 'n vissie vang in die Oranje en ontmoet ook ‚n plaaslike inwoner. Daarna ry ons op die roete al langs die pragtige Oranjerivier. Om elke hoek en draai is daar pragtige egte NoordKaap tonele met die mooie Oranjerivier.

Ons stop by 'n plaaslike inwoner en gesels lekker met hom en help hom daarna om sy Donkiekar se wiel op te pomp in die afgelee area.

Ons vorder fluks en ry 'n paar interresante hindernisse oppad na die bergpas genaamd Road to Hell. Aan die voet van die pas berei ek Petri voor vir die ergste en daarna vat ons die pas met die sleepwa. Ek maak 'n fout en val vas met die voertuig deur die ewenaar op te hang aan 'n rots, want ek het nie gekonsentreer nie.

Petri help my met die herwinning na agter waar ons 'n kinetiese tou aan die sleepwa vasmaak om my voertuig van die hindernis te kry. Daarna ry ons verder tot bo op die kruin alvorens jy afdaal met die Road to Hell.

Wat altyd belangrik is wanneer 4x4 gery word is om eers die hindernis te loop. Die is 'n lang bergpas, maar ek loop die gevaarlikste gedeelte en kom terug ne Petri met die slegte nuus, ONS DRAAI OM! Die Road to Hell is net eenvoudig geweldig moeilik, tegnies en gevaarlik en daar is nie genoeg tyd in die dag om hom te ry nie! En ons sal ook nie die sleepwa daar af neem en weer heel terug kry nie.

Ons draai dus om en gaan soek 'n lekker kampplek waar ons kampopslaan en ‚n lekker nagrus kry alvorens ons die volgende oggend die Road to Hell aandurf.

 

Episode 4

Ek vat Petri op Safari en ons ry in die NoordKaap die roete al langs die pragtige Oranjerivier met die naam Namakwa 4x4 Roete. Ons het aan die voet van die berg met die gevreesde pas Road to Hell gekamp nadat ons moes omdraai met die sleepwa, want die pas is net te gevaarlik. Daar was ook nie genoeg tyd om die pas af te gaan tot by die Oranjerivier  nie. Na ‚n heerlike aandete het ons 'n welverdiende rus ingekry voor die groot toets. Vroeg die volgende oggend maak Petri vir ons ontbyt en slaan ons kamp op. Daarna los ek die sleepwa en ry ons met die voertuie weer die eerste gedeelte van die pas wat ons ook die vorige dag gery het.

Bo aangekom maak ons seker die banddruk is reg en daal af in die pas. Ek weet wat voorlê, want ekt al die pas die vorige dag geloop, maar Petri het geen idee wat vir ons wag nie. Ekt hom wel bietjie ingelig en hy lyk nogal bekommerd, maar dis belangrik dat jy hier kophou en die hindernisse tree vir tree elkeen op sy eie hanteer.

Ons kom ook by die eerste gevaarlike gedeelte aan waar die klippe baie los is, maar ook 'n geweldige nou gangetjie maak vir die breë voertuie. Dis belangrik om elke hindernis te loop en te weet waar jy moet ry en wat om te maak, maw jy moet beplan, want hier kan jy nie foute maak nie, want hulp is baie ver!

Ons ry die eerste hindernis sonder probleme. Hier is die hindernisse letterlik bo-op mekaar en ons stop die voertuie waar die veilig is om weer na die volgende een te kyk en te loop. Hierdie is en bly maar 'n gevaarlike pas met die kranse aan die een kant en die afgrond aan die anderkant. Die kwik styg ook vinnig in hierdie area en veral hierdie tyd van die jaar.

Ons kom by die volgende baie erge en senutergende hindernis aan, want hier is geen kans vir foute nie en as jy dit wel gaan maak gaan jy die voertuig afrol teen die berg. Ons moet eers klippe pak en baie van hulle om pad te maak vir die linkerwiele, want daar is 'n afgrond! Hierna is dit my beurt en Petri help my deur hierdie senutergende hindernis waar die linkerkant se wiel slegs 'n gedeelte op die rotswand loop. Ek ry hom suksesvol en nou is dit Petri se beurt en ek help hom baie mooi oor die hindernis en sien dat sy stuurinsette net te veel is. In 4x4 hindernisse draai jy die stuur klein bietjie op 'n slag, maar dis ook Petri se senuwees wat knaag en daarom maak jy die foute. Gelukkig kom ons veilig deur die moeilike hindernis. Petri dink natuurlik dis die laaste ne nou kan hy gaan visvang, maar nee ons is nog vêr van die viswaters en daar le nog ‚n paar hindernisse voor.

 

Episode 5

Ek en Petri ry die Namakwa 4x4 roete in die NoordKaap wat by Pella begin en al langs die Oranjerivier kronkel. Ons het gevorder tot by die baie gevaarlike pa met die naam Road to Hell. Hier moes ons omdraai en eers kamp gaan soek waar ons die sleepwa kon los, want die sleepwa gaan nie die pas kan afgaan en opkom sonder skade nie. Ons vorder baie goed en ry die gevaarlike pas tot amper by die rivier, nou vir die laaste stukkie hindernis.

Gelukkig het ons by Sandwani ‚n draai gaan maak met sy beton syhellings, want hier moet ons of die boom afkap of die syhelling aandurf. Ek sien hy is darem nie te gevaarlik nie en ry die syhelling eerste, maar my hart gaan amper toe die voertuig begin gly! Gelukkig was dit net ‚n los rots wat omgedop het en ek ry die hindernis deur sonder ‚n skrapie. Nou is dit Petri se beurt en hy kom ook gemaklik deur hierdie een!

Dan kronkel die paaidjie verder tussen die spoelklippe deur tot naby aan die rivier. Nou kan ons bietjie ontspan en Petri kan sy visstok uithaal en bietjie visvang. Petri trek sommer met elke gooi ‚n vis uit, want dis iets wat hy darem baie goed kan doen en hier is geen visvang druk nie. Daar word ook lekker geswem in die rivier alvorens ons die pad terug aandurf in die verseggende hitte.

Nou weer die syhelling en dan al in die droee rivierloop op met sy vaste rotse en sand. Hier moet jy weet waar trap jou wiele anders skraap jy die voertuig of  kan selfs vasval en die voertuig ophang. Daarna begin ons die gevreesde Road to Hell uitklim. Die nou paaidjie kronkel al teen die berg uit en raak al hoe styler. Dis natuurlik baie moeiliker om opwaarts te ry dan afwaarts, want afdraend is daar gravitasie wat jou help, maar opwaarts moet jy krag op die wiele sit en met los klippe is dit baie moeilik.

Die hindernisse is nou reeds afdraend gery, maar verander geheel en al as jy hulle opdraend moet ry. Derhalwe is die pas baie moeiliker opdraend as afdraend en moet daar kopgehou word. Petri is nou al baie vertroud met sy voertuig sowel as die pas, maar ek help hom nog steeds oor die hindernisse, want dit gee jou gemoedsrus.

Ons kom by die moeilikste gedeelte aan, daardie een waar ons klippe gepak het. Hier is dit nou Petri se beurt om my met die hulp van die radio te help en ek verduidelik hom presies wat ons gaan doen en hoe ons gaan ry. Ek ry die hindernis, maar die wiele gly op die rotse en die los klippe sak weg onder die voertuig, gelukkig hou ek kop en ry die hindernis deur. Nou is dit Petri se beurt en hierdie keer het ek hom gewaarsku oor sy stuur insette. Hy doen baie goed en kom ook die gevaarlikste gedeelte deur. Daarna die los klippe en nou gangetjies tot bo. Dis geweldig warem buite en as jy uitklim voel dit soos ‚n oond waarin jy is, selfs die rotse is so warem dat jy nie daaran kan vat nie. Ek beveel aan dat jy die roete ry in die koeler maande van die jaar.

Ons vorder tot heel bo op die pas Road to Hell en het hom suksesvol deurgemaak, sonder ‚n skrapie aan die voertuie. Dis ‚n baie lekker gevoel en ons is baie trots op die oorwinning van Road to Hell.

Daardie aand slaap ons weer lekker en met ‘n gerusde hart tussen die berge in ‘n droë rivierloop.

 

Episode 6

Ek besluit om Petri na Angola te neem en ons vat die pad vanaf SA na Ruacana in Namibia, waar ons die grens oorsteek na Angola. Daarvoor het ek egter ‚n gids nodig om ons uit te nooi na Angola, anders kan jy nie ‚n Visa bekom nie. Ek het vir Frans van Yona Safaris gevra om ons by te staan. Frans ry nou saam met ons in Angola. Ons volg die grondpad al langs die Kunene rivier in die rigting van die See.

In Angola ry jy aan die regterkant van die pad, want daar is linkerhandstuur voertuie, dit was iets om aan gewoond te raak.

Ons het egter vinnig besef dat die grondpaaie in die suide van Angola baie nat is van die vorige dae se reen en ons kry die een watergat na die ander, daar is meer water as wat daar droe grond is. Die waterpoele maak die pas baie stadig en ons vorder nie soos beplan nie. Dan is daar ook die erge hindernisse wat ons op die slegte 2 spoor paaidjies moet ry.

Ons kruis ook baie droe rivier wat van die reens verspoel het en kry ook daardie riviere met water.

Ons ry tot laatmiddag en soek net voor dit donker word ‚n kampplek in die bos. Daarna slaan ons vinnig kamp op en maak ‚n lekker aandete waarna ons om die kampvuur ontspan. Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere om verlore afstand te probeer inhaal, maar dis nie so maklik in hierdie terrein nie. Ons kruis ‚n hele klomp riviere terwyl die omgewing prentjie mooi is.

Deur die loop van die dag ry ons binne in ‚n baie erge donderstorm en verander die paaie in riviere.

 

Episode 7

Na ‚n heerlike nagrus staan ons vroeg op om in die pad te val en verlore tyd in te haal, maar dit gaan nog steeds stadig met al die rivier en hindernisse.

Ons ry ons egter vas in ‚n geweldige storm en daar begin dit ook te haal met geen skuiling nie. Ons druk deur die storm, maar dan verander die paaie in riviere en kry ons nog meer water en rivier om te kruis.

Petri word die waterman gedoop en moet elke keer die rivierkruisings loop om te gaan kyk vir gevare alvorens ons die rivier kan kruis.

Ons probeer op die oop gedeeltes spoed op te maak, maar dit help nie veel nie, want Petri se voertuig val vas op ‚n rots. Van Haastigheid kom Lastigheid. Nou moet ons eers herwinning doen en kry sy voertuig suksesvol uit, maar verloor nog tyd. Ons neem nou maar aan dat ons later as wat ons beplan het by die see gaan aankom en nie vannaand daar gaan slaap nie.

Almal raak vervelig en vertel ‚n klomp stories en so vertel Frans ook van ‚n spesiale Jerykan wat hy op die pad 10 jaar gelede begrawe het, nou wie sal hom glo. Maar sowaar, daar grawe hy die spesiale Jerrykan uit en ons geniet die inhoud.

Nou met nuwe moed ry ons verder en vorder tot teenaan die woestyn waar ons kamp opslaan. Die volgende oggend vroeg het die mis ons omvou met die oppak slag en ons het die berge agtergelaat en die woestyn ingevaar.

Frans het ons ‚n draai by die Kunene laat maak en daarvandaan verder koers gekies na die See.

Dit was ‚n welkome verligting toe ons by die see aangekom het, maar die Suid Wester het stromsterk gewaai en ons moes gaan skuiling soek in die Duine.

  

Episode 8

Ons staan die oggend vroeg op agter die duine om kamp op te slaan na ‚n nag se sterk Suid Weste wind. Die duine het ons goed beskerm teen die storm wind wat in die vroeë oggendure gaan lê het.

Na ‚n heerlike proteien belaaide ontbyt wat Petri gemaak het, vat ons die pad terug oor die duine na die see waar die gevaarlike doodsakker vir ons wag.

Dis belangrik om jou tydsberekening reg te kry vir die doodsakker, want hier moet jy ry wanneer die water vêr genoeg terug getrek het. Die doodsakker strek vanaf net voor Baia Dos Tigres vir 45 kilometer Noord waarts. Dis so gevaarlik want daar is slegs ‚n klein spasie waar jy kan ry tussen die see en die duine.

Ons kom te vroeg by die begin punt aan en moet eers stop en wag dat die water verder sak. Ons maak van die tyd gebruik om fotos te neem en die see te bewonder. Ongeveer 2 uur voor laagwater is die water laag genoeg en begin ons te ry.

Kort kort breek die branders teen die voertuig se wiele en vang dit jou omkant, maar ons bly ry, want die pad is lank en ons weet nie wat voorlê nie.

Jy kan sien dat hier min mense kom en die natuur nog ongerep is, want die voëllewe is oorweldigend. Die see wemel van die vissies en kort kort sien jy groot skole uit die water spring.

Ons moet ‚n paar maal deur die water ry waar daar nie genoeg sand is nie. Vandag is die see baie kalm en genadiglik met ons. Uiteindelik kom ons veilig aan die ander kant van die gevaarlike doodsakker aan.

Met ‚n sug van verligting gaan soek ons weer skuiling in die duine vir die suidwester wat moontlik sy opwagting gaan maak.

Ons ry ‚n baie senutergende en gevaarlike duin wat ons almal onkant vang, maar kom darem gelukkig heel anderkant uit.

 

Episode 9

Ons het so pas die gevaarlike doodsakker suksesvol gery. Nou vat Frans die toergids ons die duine in na sy spesiale kampplek. Hier kry ons nou te doen met die Angolese duine.

Ons ry die een duin na die ander en sommige van hulle moet ek uitklim en eers gaan bestudeer of ek wel daar met die sleepwa sal kan deurgaan. Dan is daar duine wat Frans my nie kans gee om te bestudeer nie en vat ons die kans en ry hulle bloots.

Kort kort kry ons van daardie glipduine waar ons baie styl moet afgaan, maar elke keer maak ons dit veilig tot onder. Dan weer so ‚n moeilike een waar die sand baie los is en daar gaan val ek vas met die sleepwa omdat daar net eenvoudig te min momentum was.

Petri kom tot my redding en help my agteruit uit die gevaar. Ek ry vorentoe af teen die duin en gaan maak my draai daar ver waar ek genoeg momentum kon opbou en ry die duin tot bo.

Nou ry ons al verder en Frans bak vir ons ‘n poets deur ons baie ver ompad en al in die rondte te laat ry oor al die moeilike duine. Uiteindelik kom ons by die kampplek aan en slaan kamp op en maak vuur. Daardie aand braai ons lekker en vier die dag se gebeure.

Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere en ry verder Noord al langs die see tot by ‚n wrak.

Daarvandaan ry ons meer binneland toe en dan deur ‚n woestyn tot anderkant die dorpie Namib waar ons langs die see kamp opslaan. Petri kry vir die eerste keer kans om vis te vang en dis sy beurt vir aandete. Hy vang ‚n paar vissies vir die rooster en ons eet vis en skyfies langs die see.

Die volgende dag gaan ons duik en geniet die subtropiese seewater. Ons haal monster oesters uit en eet hulle so vars met suurlemoen sous. Daarna vang ons vir oulaas vis en kry ek ook my grote aan die lyn.

 

Episode 10

Namibia – Kaokoland

Ek besluit om vir Petri na Kaokoland te neem, daar in die Noord Weste van die pragtige land Namibia. Die roete begin net anderkant Kamanjab waar ons van die teerpad afdraai. Ons blaas eers bande af vir die sanderige paaidjie om beter flotasie te kry.

Met afgeblaasde bande ry ons tot binne in ‚n rivierloop wat ons nou volg vir ongeveer 50 kilometer. Die rivierloop is die ene stof en vinnig kom Petri agter dat hy baie ver moet terugval, want die stof hang net een voudig te lank in die lug. Dis natuurlik baie gevaarlik om so in die stof te ry agter die persoon voor jou en daar is dit altyd wenslik en baie veiliger om terug te val en buite die stof te ry, want jy kan beter sien en kom net ‚n paar minute na die ander persoon by die eindbestemming aan. Dis ook beter vir die voertuig se asemhalingstelsel, want daars dan minder stof wat die filters moet skoon maak alvorens die skoon lug die engine binnegaan.

Die rivier kronkel en gee vir jou pragtige prentjies om elke hoek en draai. Ons soek kampplek vir die aand, maar verseker nie in die rivier nie, want as dit hoër op reen in die binneland kom die rivier vinnig af en sal die water jou binne ‚n paar minute verswelg! Hier het al baie mense in die moeilikheid beland agv kamp in die droë rivierloop!

Nadat ons kamp opgeslaan het maak ek vir ons lekker aandete en klim ons voreg in die bed.

Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere en maak ontbyt alvorens ons die rivierloop verder aandurf.

Vandag kry ons nog meer stof as gister, dis ‚n poefstof wat orals inkruip. Hier word jou toerusting behoorlik ‘n stoftoets gegee. Ons sien pragtige tonele in die rivier. Kort kort moet ons uit die rivier, want as daar rotse in die rivierloop is kan ons nie daar ry nie.

Die voertuie bly in 4x4 en die momentum word behou vir die los sand en stof.

Nadat ons genoeg stof vir een dag geet het, kom ons by ‚n kampterrein aan wat deur plaaslike bevolking onderhou word. Dis altyd goed om hulle te ondersteun.

Ons kuier lekker om die kampvuur en slaap rustig onder die sterre.

 

Episode 11

Namibia – Kaokoland

Ons ry in Kaokoland in die Noorde van Namibia en is oppad na Robbies pas.

Ons staan die oggend voreg op na ‘n heerlike nagrus en slekker stort waar ons die stof van die vorige 2 dae kon afwas!

Petri maak vir ons ‘n groot ontbyt alvorens ons oppak en die lang pad vat na Robbies Pas. Ons ry verby Sesfontein en draai net ander hom af na die noorde. Hier volg ons ‚n tweespoor paaidjie wat al hoe nouer word. Kort kort kry ons ‘n slootkruising of ‘n rotsklim hindernis. Na ‘n paar uur se ry kom ons by die beginpunt van Robbies pas aan. Dis ‘n pragtige prentjie so tussen die twee berge, want die pas loop al in die kloof en die rivierbedding. Dis nou net waar die moeilikheid begin, want die rivierbeeding het groot rotse en paaie klippe. Dit was nie lank alvorens ek nie mooi gekonsentreer het nie en daar val ek vas met my voertuig en sleepwa op ‚n rotsbank.

Gelukkig het ek die nodige 4x4 herwinningstoerusting by my en help Petri my om die voertuig van die rots af te kry. Maar dit was nie die einde nie, want die pas het nou net eers begin.

Ons kom baie vinnig agter dat die pas nie jou speelmaat is nie. Ons moet pad bou vir die vale, want hier is die een hindernis direk op die ander een. Dan help Petri my om deur ‚n baie moeilike stuk te kom wat ongelooflik nou is. Ek kom veilig daardeur sonder ‚n skrapie aan die voertuig. Nou is die Petri se beurt en ek help hom weer. Gelukkig kom hy ook heel anderkant uit.

Dit voel vir ons asof ons geensins vorder nie, maar hier is nou nie meer omdraai kans nie en ons beur vorentoe die pas in. Ons is van mening dat hier maande laas voertuie deur is, want soms verloor ons die pad en moet eers gaan soek waar hy is. Die rotse raak ook al hoe groter en moeiliker.

Ons vordering is geweldig stadig en die son se strale raak al hoe langer. Ons kan nie in die berg slaap nie, want hier is net klippe, dus gaan Petri op klippe slaap. Gelukkig is daar so ‚n klein stukkie waar die pad langs die rivier loop, slegs sowat 75meter en ons besluit om daar kamp op te slaan in die pad! Ons is baie seker hier gaan nie sommer iemand in die nag verby wil kom nie!

Na ‚n heerlike aandete en kampvuur kuier gaan slaap ons, want more is nog ‚n lang dag.

 

Episode 12

Namibia – Kaokoland

Ons ry in Kaokoland wat in die Noord Weste van Namibia geleë is. Ek vat Petri op ‚n baie rowwe 4x4 pad en ons eindig op binne in Robbies pas. Na ‚n hele dag se sweet en klippe pak word ons gedwing om in die pas te slaap, want die vordering is baie stadig.

Na ‚n heerlike nagrus staan ons vroeg op en maak ‚n proteien belaaide ontbyt vir die rowwe dag wat voorlê.

Nadat ons kamp opgeslaan  het, vat ons die klipperige pad verder al deur die klowe van Robbies pas. Ons het net sowat 50 meter gevorder alvorens ons weer baie moeilikheid kry. Die pad is onbegaanbaar en moet ons baie klippe pak om oor die groot rotse te kom wat ons nie kan skuif nie.

Petri help my deur ‚n baie moeilike stuk, maar ek val vas met die voertuig want die sleepwa haak vas aan die rotse met sy disselboom. Ek grawe die voertuig in tussen die klippe en moet die herwinningstoerusting uithaal wat ek by Safari Centre gekry het.

Ek tel eers die voertuig op enpak klippe onder sy wiele om hom op gelyke grond te kry sowel as op die hoër grond vir ‚n beter grondvryhoogte. Daarna is dit die sleepwa se beurt, want die is ook te laag en ek moet ook klippe onder sy wiele pak. Na baie sweet kom ek uiteindelik weer agter die stuur en ry die voertuig stadig oor die klippe die hindernis uit. Maar reg voor my is daar weer gevaar en Petri help my ook daardeur, dis letterlik sentimeter vir sentimeter.

Nou is dit Petri se beurt, gelukkig sonder ‚n sleepwa! Hy kom veilig deur die moeilike stukkie rotste en klippe hindernis.

Ons is nou so ¾ deur die pas, maar kry toe ‚n baie moeilike opdraend met baie los klippe. Ek gaan loop eers die hele hindernis tot bo uit en kom agter die is nie jou speelmaat met ‚n sleepwa nie, want behalwe die los klippe is hier ook trappe wat geklim moet word. Ek blaas eers weer bande af vir beter traksie en flotasie op die los klippe. Daarna ry ek die lyn wat ek gekies het en dis aan die regterkant, naaste aan die berg, want daar is meer vaste grond en minder klippe vir die regterkant se wiele. Ek bou genoeg momentum op in 2de rat en hou dan die versneller egalig. Die 2 liter klim die berg uit met die sleepwa agterna, en dan die trappe. Die klim ons ook so bokspring uit en kom veilig bo. Nou help ek vir Petri en maak hom wys deur alles oor die radio vir hom te se van buite wat ek sien en wat hy moet doen. Hy kom ook veilig bo, maar nie alvorens hy geskrik het nie, want hy het nie besef die trappe is so groot en hoog nie.

Nou vat ons die pas verder en kom uiteiendelik aan die einde. Daar slaan ek vir ons skaduwee op en rus eers met gisteraand se oorskiet wat ons magies vul. Dit was ‚n ongelooflike ervaring en ek het nog nooit so baie klippe in my lewe gepak nie.

  

Episode 13

Namibia – Kaokoland

Ons ry in die Noord Weste van Namibia en in die rigting van Van Zyl’s pas nadat ons die uitdegende en gevaarlike Robbies pas suksesvol deurgemaak het.

Die pad is by tye baie mooi geskraap en ons vordering is goed. maar hoe nader ons aan Van Zyls pas kom hoe nouer raak die 2 spoor paaidjie. Ons kry ‚n hele klomp hindernisse en moet vinnig aanstoot want die son is besig om sy laaste strale te gooi. Ons kry nog ‚n paar interresante hindernisse alvorens ons by die kampterrein aankom net voor die pas.

Hier pak ons af en geniet ‚n welverdiende ruskans alvorens ons die volgende oggend die baie bekende Van Zyl’s Pas aandurf.

Na ‚n vinnige ontbyt pak ons op, want die pas is lank en ons het nou geleer uit Robbies pas, moet nie tyd verspil nie. Ons ry by ons kampterrein uit in die rigting van die pas wat jy altyd van Oos na Wes oorgaan. Die pas val by die 700 meter oor ‚n baie kort stukkie. Ons kry ‚n hele paar interresante hindernisse wat baie intemederend lyk. Daar was egter al baie mense deur die pas en hulle het baie klippe vir ons gepak, maar soms is ek verbaas oor waar hulle ry en hoe die klippe gepak is, want dis die verkeerde lyn. Ek help vir Petri en leer hom waar die regte lyne is deur die hindernisse te loop.

Ons vorder baie goed en na ‚n paar uitdagende hindernisse met die sleepwa kom ons by die uitkyk punt aan. Hier kan jy tot in die volgende dag sien oor die Hartmansvallei. Dis ‚n pragtige prentjie, maar ons moet in die pad val want daar is nog ‚n baie moeilike stukkie pas wat voorle alvorens ons in daardie vlakte kan ry wat ons hier van bo sien.

Die volgend hindernis moet ons ‚n paar klippe pak om deur te kom met die sleepwa en ek het besluit om die lyn anders te ry as waar die normale lyn loop. Dit help baie en ons beide ry die hindernis baie gemaklik sonder skade.

Uiteindelik kom ons aan die onderpunt van Van Zyl’s pas aan en sien al die klippe wat die mense hulle name op verf vir altyd. Dit was ‚n lekker uitdaging, maar ook ‚n teleurstelling, want ons het baie erger verwag na aanleiding van almal se kommentare oor hoe moeilik die pas eintlik is. Ons kom tot die gevolgtrekking dat Robbies Pas die moeilikste was, daarna Road to Hell en Van Zyl’s was die maklikste wat ons nog gery het.

Die reeks kom nou tot sy einde en ek beplan alreeds wat ons volgende gaan doen, hou dus die spasie dop en volg my op Safari 4x4 Roetes facebook.

Ons kondig ook die sleepwa kompetisie se gelukkige wenner aan. 

bottom of page