andre_4x4
Andre 4x4
André presents the popular kykNET television series Safari 4x4 Roetes

André presents the popular kykNET

television series Safari 4x4 Roetes

Back to index

Word ’n ander mens met jou4x4

Word ’n ander mens met jou4x4
04 December 2014

’n Viertrekvoertuig kan jou baie pret verskaf, mits jy weet wat jy doen.

Die bekende aanbieder van kykNET se Safari 4x4, André de Villiers, se kennis van viertrekvoertuie en die veilige verkenning van ongetemde weë, is landwyd bekend. Dit is ook

duidelik dat hy graag alles wat hy weet met ander mense deel. André se liefde vir 4x4-ry kom

al van kindsbeen af. Hy het in die Boland grootgeword en op ’n baie jong ouderdom met ’n duinebesie, wat hy self opgebou het, op sandduine begin ry. “Dis waar ek begin het – met ’n duinebesie en Land Rovers op sand.”

Nadat hy sy militêre diensplig voltooi het, het hy meganiese ingenieurswese gestudeer. Dit is hoe hy in voertuigontwikkeling beland het waar hy ook baie veldrytoetse moes deurmaak. Sy toenemende blootstelling aan viertrekvoertuie het sy belangstelling nog verder geprikkel.

André het in 1993 die geleentheid gehad om deur die hele Afrika te toer en beskryf dit as sy beste ervaring nog. “Dit was ’n belewenis en ek kan amper sê dit was my heel grootste 4x4 veldryondervinding, hoewel dit met ’n militêre voertuig was.”

In 1998 het André die eerste tak van Safari Centre in Menlyn begin. “Ek het mense op toere na Mosambiek geneem wat baie lekker was. Ons was ook Botswana, Zambië en Namibië toe.“Ek vat partykeer ook mense oor naweke uit op Serendipityroetes na die Oos-Kaap of Lesotho. Ek het suidelike Afrika al platgery en ken Botswana beter as Pretoria,” spot hy.

Gesig op die TV

Omdat hy Mosambiek so goed ken weens al die toere wat hy daar gedoen het, is hy deur die vervaardigers van die kykNET-program, Hier gaan ons alweer, genader om ’n ekskursie na Mosambiek te lei en só is die saadjie vir Safari 4x4 geplant.

“Ek het ’n passie vir 4x4’s én vir mense – ek hou daarvan om my kennis te deel. Dalk nie in ’n boek nie, want ek is nie eintlik ’n skrywer nie.” Tydens dié reis deur Mosambiek het hy een aand daar om die kampvuur besef dat as hy mense meer wil leer oor 4x4-ry, is ’n TV-program die ideale platform.

Sowat ’n jaar en ’n half later het kykNET vir André die groenlig gegee vir so ’n program.

“Dit was ’n geskarrel om alles reg te kry. Die eerste episode het maar swaar gegaan, want ek het nie baie van kameras geweet nie en is nie ’n Hollywood-ster nie,” vertel hy. Hy het dit wel baie geniet en in die tweede jaar van die reeks het hy ’n goeie span saamgestel wat tot vandag toe nog saam met hom daaraan werk. “Ek het al 92 roetes in Suid-Afrika vir televisieopnames afgelê. Vir my eie persoonlike plesier het ek natuurlik al baie meer 4x4-roetes gery.”

André-hulle is nou besig met die agtste reeks van Safari 4x4 en die voorbereidings vir volgende jaar se reeks is ook reeds aan die gang. “Die mense geniet dit gate uit. Ons kry nét goeie terugvoering.”

Watter roetes om te ry

“Daar is twee verskillende tipe roetes wat ’n mens kan ry,” sê André. “Jy kry ’n veldroete wat

André nooi mense om sy webblad, www.andre4x4.co.za, te besoek vir meer inligting. Navrae kan ook gestuur word aan andre@andre4x4.co.za. baie lank is. Ons gaan byvoorbeeld vir tien dae Namibië toe met ons tente vir ’n kampsafari.

Dan kry jy korter roetes wat oor ’n naweek gedoen kan word. Ek klim soms die Saterdagoggend in my 4x4 en ry uit na ’n roete, daar ry ek die berg uit, geniet die natuur, braai ’n vleisie en draai in die laatmiddag om en slaap weer by die huis.

“Dis vir my lekker om na gastehuise op plase te gaan en tyd saam met boere deur te bring. Só kan ek al hul stories hoor, en glo my, elke boer se storie is uniek.”

Nuwe Eienaar, Nuwe Bestuurder

Dit is belangrik dat mense wat 4x4-roetes wil aanpak moet weet waarvoor hul voertuie geskik is. André sê voertuie kan baie maklik op die verkeerde roete beskadig word.

“Die meeste mense kan nie bekostig om ’n groot voertuig op te bou nie. Hulle wil een koop om te gebruik vir kerk, werk en as ma-se-taxi en dan oor ’n naweek daarmee plaas toe gaan of roetes ry. Dít alles sonder om die voertuig te beskadig.” André reken ook dit is belangrik om opleiding te kry sodra jy jou nuwe 4x4 aangeskaf het sodat jy die voertuig reg gebruik. “Dit is maklik om te sê ek het ’n 4x4 so ek kan deur hierdie gat ry, maar dan kom jy aan die anderkant van die gat agter jy het jou voertuig beskadig omdat jy dit verkeerd gedoen het.

“Verstaan jou voertuig, ken sy vermoë en ook jou eie. ’n Viertrekvoertuig is eintlik ’n wonderlike ding, want hy kan berge en rotse uitklim en dinge verrig sonder om seer te kry. Maar jy móét weet wat jy agter die stuurwiel doen.”

André bied juis sulke kursusse aan. Hy neem 12 voertuie per dag, of 18 as hy ’n tweede instrukteur inkry. Dit begin die oggend vroeg en maak die middag laat klaar.

“Ek leer die kursusgangers alles van hul viertrekvoertuie en hoe om dit reg te gebruik. Die kursus is veral gemik op intreevlakbestuurders wat ’n nuwe 4x4 gekoop het en gereed is om bos toe te gaan, maar dit nog nooit gedoen het nie. Ons maak hulle touwys en ek deel my ondervinding en kennis wat ek deur die jare opgedoen het.

“Ek wys vir hulle wat hulle met hul voertuie kan doen. En daarna is dit, soos die Engelsman sê, practice makes perfect. Dan moet die ouens hul 4x4’s vat en in die bosse gaan ry en sien dat hulle kán doen wat ek vir hulle gewys het. Maar ek sê nie ek weet altyd alles nie. Ek leer daagliks nog by ander mense ook.” Sodra jy die vaardighede onder die knie het, beloof André, jy gaan baie pret hê. Hy stel voor jy maak jou gesin deel van jou nuwe passie.

“Ons is so vasgevang in die betonoerwoud. Ons moet die vars lug daar buite gaan haal. ’n Mens het sonlig nodig. Vat jou vleisie en braai in die bos. Ek wil amper sê, los jou rekenaar en selfoon by die huis of skakel dit af en gaan ervaar dan die natuur.” Vir André is een van die lekkerste dinge van ’n viertrekvoertuig dat dit hom die geleentheid bied om vir ’n ruk – al is dit net ’n halfuur – bo-op ’n berg te gaan sit en die natuur alleen en in vrede te beleef.

“Jy kan die wêreld bekyk en jy sien die Skepping en dit is ongelooflik. Jy word ’n ander mens.”

Comments

categories