andre_4x4
Andre 4x4
André presents the popular kykNET television series Safari 4x4 Roetes

André presents the popular kykNET

television series Safari 4x4 Roetes

Back to index

4x4: ‘n Leefstyl

4x4: ‘n Leefstyl
19 November 2014

Ons as Suid Afrikaners is besonder geseënd met ‘n unieke kultuur en omgewing;  ‘n pragtige land met sy natuurskoon en interessante en mooi draaitjies en hoekies wat nog ontgin moet word. Waar anders ter wêreld vind ‘n mens so ‘n groot diversiteit van kulture, natuur en wildlewe? Deesdae vind mens dikwels dat die 4x4 so ‘n integrale deel vorm met ons as Suid Afrikaners, dat dit selfs ondenkbaar begin lyk om sonder een te oorleef. Orals waar jy gaan, of dit nou in die hartjie van Sandton is, of op ‘n klein plattelandse dorpie, sal jy nooit ver na ‘n 4x4 hoef te soek nie.

Deur net te kyk na ons land se topografiese verskeidenheid, is dit duidelik dat dit hemel is vir 4x4 bestuurders. Daar is genoeg in ons land om aan enige 4x4 eienaar ‘n uitdaging te verskaf, van die duine langs die noord-westerlike kus, tot die bebosde laeveld met sy veldry hindernisse. Bo en behalwe ons unieke roetes wat jou ‘n leeftyd sal neem om almal te voltooi, is ons ook geseën met ‘n natuurlewe wat floreer, die groot vyf, asook diverse kulture en dorpies om elke hoek.

Dit sal baie moeilik wees om Suid Afrika ten volle te beleef sonder ‘n 4x4. Die feit dat mens so baie vierwiel aangedrewe voertuie op ons paaie sien, spreek vanself oor die unieke uitdagings wat die Suid-Afrikaanse land bied. Om ‘n 4x4 te besit is meer as net ‘n keuse van voertuig; dit is ‘n lééfstyl. ‘n Passie. As die grondpadgogga jou eers byt, wéét jy dat jy nie gou weer tuis sal voel in enigiets behalwe ‘n 4x4 voertuig nie. Daar is sekere dinge wat net beter is in ‘n 4x4: soos ‘n rustige familie-vakansie saam in die Drakensberge, wildbesigtiging in die Krugerwildtuin of duine –ry in Mosambiek. Vir dié wat smag na meer avontuur en adrenalien is daar hindernisbane en kompetisies wat selfs die mees gesoute vierwiel veterane soms laat sweet.

Die belangrikste vraag wat jy jouself moet vra is: watse tipe vierwiel voertuig het ek nodig? Nadat jy jou keuse van 4x4 gemaak het, is daar die toebehore opsies om te oorweeg – soos wen-aste, dakrakke, dubbel batterysisteme, daktente, grondpad suspensie, ingeboude kompressors en ekstra kolligte. Al hierdie ekstras maak die  4x4 ervaring net méér gerieflik, méér veilig en méér opwindend. Miskien klink dit met die eerste oog opslag ‘n bietjie oorweldigend, of miskien is dit presies waarna jy soek – hoe dit ookal sy - die 4x4 leefstyl bars uit sy nate met opwindende geleenthede.

Die 4x4 leefstyl is baie pret, maar mens moet nooit uit die oog verloor dat jy met die gebruik van sulke voertuie groot verantwoordelikheid en soms baie geduld aan die dag moet lê nie! Gelukkig is daar menige plekke wat opleidingskursusse aanbied vir 4x4 bestuurders, wat jou die selfvertroue en kennis sal gee om met jou 4x4 enige hindernis en situasie aan te durf én te hanteer. Dit is immers belangrik om te weet hoé presies jou 4x4 hanteer moet word – vir die voertuig, jou én jou passasiers se veiligheid. Nadat ‘n goeie opleidingsgrondslag gelê is, kan jy begin met die ware pret: 4x4 roetes!

Regoor Suid Afrika is daar talle roetes wat ideaal is vir die beginner tot die mees gevorderde bestuurder. Roetes kan ‘n mens gewoonlik in twee groepe verdeel naamlik kort, en lang afstand hindernisse. Elke roete word ook gewoonlik ‘n graderingspunt (uit 5) gegee, wat die hindernis se uitdagingsvlak aandui. Om sulke hindernisse aan te pak is alles behalwe ‘n een-man aktiwiteit, juis omdat baie roetes die hulp van een of meer passasier benodig. Verder is 4x4 roetes ‘n aangename plek om ander 4x4 entoesiaste raak te loop. Om jou ervarings met ander 4x4 entoesiaste te deel, is daar ook baie klubs waarby jy kan aansluit. ‘n Mens moet ook nie die fout maak om te dink dat die 4x4 kultuur alleenlik deur mans oorheers word nie. Deesdae stel al hoe meer van die skoner geslag belang in 4x4 opleidingsessies, en kompetisies.... en steek hulle soms hul manlike eweknieë die loef af!

Goeie 4x4 hindernisbane is deesdae oral te vind en die  internet en 4x4 klubs regoor Suid Afrika is waardevolle bronne van inligting om ‘n baan naby jou op te spoor . As ‘n mens op die regte tyd inskakel op kykNET kan jy selfs André de Villiers se Safari 4x4 Roetes program wat elke week ‘n nuwe 4x4 roete in Suid Afrika toets, sien (Hou ‘n oog oop vir die agste seisoen van dié gewilde reeks in die eerste kwartaal van 2015). Belangrike faktore om in ag te neem wanneer jy ‘n 4x4 hindernisroete besoek, is : die moeilikheidsgraad, tipe terrein, seisoen van die jaar en akkomodasie fassiliteite, indien van toepassing.

Om hindernisse aan te durf is natuurlik nie die enigste aktiwiteit wat mens met ‘n 4x4 voertuig kan geniet nie. Vir diegene wat ‘n liefde vir die natuur en die buitelewe het, en smag na ‘n rustige bosvakansie, is 4x4 safaris die beste opsie. Nes 4x4 roetes is daar ‘n verskeidenheid opsies beskikbaar wat vir almal voorsiening maak, van vyfster hotelle tot droë kampering (geen geriewe en elektrisiteit – net jy, die bos en die sterre). Mits jy goed voorbereid en toegerus is, is ‘n begeleide 4x4 safari altyd ‘n aangename aktiwiteit en iets wat jy en jou familie vir jare sal onthou. Niks kan vergelyk word met die gevoel van eenheid met die natuur terwyl jy ‘n trop leeus, letterlik ‘n paar tree van jou af, in hulle natuurlike habitat sien rondbeweeg nie. Verder is ons geseën met buurlande wat slegs enkele ure se ry weg is, en waar dit lyk asof jy in ‘n ander wêreld inbeweeg.  Suider-Afrika is ‘n wêreld waar die natuur nog baas is, ongeskonde deur tegnologie en industrialisasie; ‘n erfstuk van Afrika wat ons moet bewaar vir ons kinders, en dankbaar voor moet wees.

Neem jou eerste stap na die  wêreld van 4x4’s, én ‘n 4x4 leefstyl,en besoek www.andre4x4.co.za om meer uit te vind oor roetes, klubs, toebehore en passingssentrums naby jou.

Comments

categories